x
x
 

 

ONS VIR JOU KOM TERUG NA DIE STAATSTEATER IN 2009!!

Ons vir Jou

Ons Vir Jou word trots ondersteun deur:

Solidariteit

Danksy oorweldigende openbare aanvraag en dusiende briewe, is die gewilde musiekspel van Packed House Productions, Ons vir jou, terug vir ‘n tweede beperkte seisoen!! Dié produksie, wat geskryf  is deur die dubbele Herzogpryswenner Deon Opperman in samewerking met Sean Else, en met musiek deur Johan Vorster, is vanaf 27 Junie weer in die Operahuis van die Staatsteater in Pretoria te sien.  Ons Vir Jou is die eerste Boereoorlog musiekspel in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater.

Die musiekspel het vir baie omstredenheid gesorg weens onder andere die inhoud van die teks, die geweldige begroting sowel as die gewaagde advertensieveldtog, maar uiteindelik was dit die menslikheid van ‘n goeie storie en die kwaliteit van die produksie wat gehore daarheen laat stroom het!

Hoewel die idee van die musiekspel ontstaan het na die sukses van die liedjie De la Rey, handel die musiekspel nie uitsluitlik oor generaal De La Rey nie. Die storie speel wel af gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog. Sê mede-skrywer Deon Opperman: “Die musiekspel genre gee jou die kans om groot stories op ‘n groot doek te vertel. Ons vir jou is inderdaad ‘n groot storie, wat die impak van die Boereoorlog op die wording van die Afrikanervolk met deernis en passie uitbeeld. En alles wat nodig is vir ‘n goeie Boereoorlog-storie is in die teks teenwoordig - die heldedade, die liefdesverhale, die slagvelde…”

Volgens mede-skrywer, Sean Else, het hy Deon na die sukses van die liedjie, De la Rey, genader met die idee om ‘n musiekspel oor Generaal De la Rey te skryf, “en die idée het vlerke gekry”.

Johan Vorster het verbeeldings aangegryp met sy asemrowende musiek. Daar is treffers soos Ons vir Jou Suid-Afrika, Vergeet My Nie en natuurlik De La Rey, maar daar is ook ander splinternuwe liedjies wat spesifiek vir Ons vir Jou geskryf is.

Die rolbesetting van by die dertig akteurs is indrukwekkend, maar dit was veral Rouel Beukes wat gehore en kritici gaande gehad het met sy vertolking van Generaal Koos de la Rey. Ander spelers wat in die produksie te sien is, is Michelle Botha as Nonnie de la Rey, Adrian Poulsen as De La Rey se seun, Adaan, Paul Lückhoff as Paul Kruger, Neels Coetzee as Siener van Rensburg, David Clatworthy as Lord Alfred Milner en Peter Taylor as Lord Methuen, om maar ‘n paar te noem.

Die skouspelagtige stelle van Stan Knight en kostuums van Sarah Roberts uit die tydperk, dra verder daartoe by om Ons Vir Jou ‘n onvergeetlike, enigste-van-sy-soort teaterervaring te maak. Volgens Paul Berning, Hoofbedryfs-beampte van Packed House Productions, is die produksie verlede jaar met ‘n begroting van 4 miljoen rand op die planke gebring. “En die reaksie was so oorweldigend dat ons genoodsaak is om die produksie terug te bring”, sê hy.

Die dramaturg, Deon Opperman, het geen bekenstelling nodig nie. Vandat hy in 1983 by ATKV-Kampustoneel gedebuteer het met Môre is ‘n lang dag, het sy skryfwerk van krag tot krag gegaan. Hy is in 2006, en so pas weer, met die Hertzog-prys bekroon.

Sean Else het sy Diploma in Drama behaal aan die Technikon van Pretoria. Hy het al in ‘n indrukwekkende lys verhoog- en televisieproduksies gespeel, en was vervaardiger van ‘n ewe lang lys drama- en musiekproduksies. Hy het egter veral bekendheid verwerf vir sy betrokkenheid in die “boyband” Eden, waarvan hy ‘n stigterslid was.

In 2005 het Johan Vorster en Sean Else die maatskappy Mozi Records begin met  Bok van Blerk as hulle eerste kunstenaar. Johan het onder andere liedjies soos De La Rey, Ons Vir Jou Suid-Afrika, 68 Chevie en So Waai Die Wind vir Bok van Blerk geskryf en vervaardig, Hy het ook vir die die “boy-band” Eden en vir Lianie May verskeie treffers geskryf.

Ons Vir Jou  sal vanaf 27 Junie tot 12 Julie in die Operateater van die Staatsteater in Pretoria te sien wees. Bespreek nou by Computicket.

 

Kyk na fotos van die produksie